Vir die 15de keer vanjaar aangebied, heers daar alreeds groot opwinding in die aanloop tot die Dagbreek Straatmyl wat in Oktober vanjaar in Stellenbosch gaan plaasvind. FOTO: VERSKAF
Atletiek legende, Johan Fourie, 65, woonagtig in Stellenbosch, is aangewys as die atleet wat by vanjaar se Dagbreek Straatmyl vereer gaan word.
Die Dagbreek Straatmyl, ‘n jaarlikse hoogtepunt op die plaaslike atletiek kalender, benewens die aanbieding van die myl, vereer ook atlete wat met hul prestasies ’n indrukwekkende en blywende bydrae tot die atletiek wêreld gemaak het.
Johan, wat bekendheid verwerf het vir sy prestasie toe hy die eerste atleet in die wêreld word om twee droom myle binne ’n uur te voltooi op 9 Februarie 1987, —’n prestasie wat hy tot vandag toe as enigste atleet in die wêreld op aanspraak kan maak—besin oor dié onvergeetlike oomblik 38 jaar gelede toe hy op ’n koue, reënerige, aand die poging op Coetzenburg, Stellenbosch, aangepak het.
“Ek wou iets doen wat niemand nog ooit kon reggekry nie. Die toeskouers en kommentator het baie bygedra tot die atmosfeer,” het hy oor dié geskiedkundige gebeurtenis gesê. Die eerste droom myl is in die reën afgelê.
Johan, wat sy eerste droommyl in Mei in 1979 gehardloop het, en vandag met die voltooiing van 53 droommyle kan spog, (die meeste nog deur ’n Suid-Afrikaner afgelê) was ook die rekordhouer van die SA Mylrekord vir 27 jaar.
Hy het hierdie prestasie behaal nadat hy die SA Mylrekord vier keer met ’n beste tyd van 3:50.82 in 1987 op Coetzenburg, Stellenbosch verbeter het. Dit is steeds die vinnigste tyd deur ’n Suid Afrikaner op SA bodem.
Francois Fouche, organiseerder van die Dagbreek Straatmyl, het gesê: “Die straatmyl word aangebied te ere van De Villiers Lamprecht, die eerste SA atleet om ’n droommyl te hardloop op 13 November 1964 op Coetzenburg, Stellenbosch. Hy was ’n oud Dagbreker.”
Die straatmyl, wat deel vorm van die Stellenbosch Woordfees, bestaan uit ’n totaal van 7 wedlope vanaf onder-13 kategorie tot Meesters.
Een van die geleentheid se unieke aanbiedings is die skaatsplank-myl (die enigste van sy soort in Suid-Afrika aangebied) waar talentvolle skaatsplank-ryers hulle vaardighede ten toon kan stel.
Musiek verskaf, deur die Redbull-trok sal sorg vir ’n feestelike atmosfeer, terwyl deelnemers kan uitsien na vele medaljes en pryse op die spel vir toppresteerders.
“Die Dagbreek-straatmyl ontgin nie net nuwe talent, maar gee ook erkenning aan die legendes van welvaar,” het Francois gesê. Verlede jaar is die wêreldbekende en befaamde atleet, Zola Budd by die straatmyl vereer, terwyl die gevierde wêreldrekordhouer Danie Malan, die vorige jaar vereer was.
Die vereer van Johan Fourie is ’n groot en spesiale oomblik vir vanjaar se geleentheid. “Weens SA se sport isolasie het Johan nooit die geleentheid gehad om internasionaal deel te neem. Mens kan net wonder watter prestasies hy sou behaal,” het Francois gesê.
Die Dagbreek-straatmyl vind vanjaar plaas op Woensdag 15 Oktober in Victoriastraat, Stellenbosch. Kontak Francois Fouche by info@straatmyl.co.za vir meer inligting of skakel hom op 083 368 5948.
Related Topics: